Eet ‘n Saggeus en help vir Chain
SAGGEUS IS TERUG! 🐒
Die legende leef voort – en hierdie keer help hy sommer alle vierpotiges in die Witzenberg-area.
Die Saggeus Special, sekerlik die Tolhuis Bistro se gewildste geregte, is terug.
Saggeus, geïnspireer deur die tollenaar Saggeus uit die Bybel, was sekerlik een van die bekendste karakters uit ons Tolhuis-dae. Hy en sy Michellspas-trop was veral lief vir die kombuis, waar sout-van-die-aarde kokke soos Antie Violet, Joe Philander, Merinsia Swartz, Marzanne Stemmet, Cathy Muller en aanvanklik Reint Grobler in daai tien jaar die potte geroer het.
Die kese was besonder lief daarvoor om sommer ‘n roosterkoek van die vuur af te gryp. Dan praat ons nie eers van Saggeus wat op ‘n dag met ‘n volle wortelkoek nog óp sy koekstaander by die voordeur uitgestap het nie!
Die Saggeus Special bestaan uit ‘n oopgesnyde roosterkoek, bedek met skyfies tamatie, Bolognese-maalvleis en ’n gebakte eier. Die cheddslar bo-op word dan in ons pizza-oond gebak tot amper-goudbruin. Hy word bedien met chips en slaai.
Maar hier’s die lekker deel: 10% van elke Saggeus Special wat ons voortaan verkoop, gaan aan Chain Boland, om hulle werk met diere en gemeenskappe te ondersteun.
So hierdie keer hoef Saggeus niks te steel nie.
Jy koop dit sommer ten bate aan hom. 🐒❤️
Beskikbaar van dié naweek af.



