Daar is iets byna romanties aan ’n properse bord Sondagkos.
Nie omdat dit fancy is nie. Inteendeel.
Dis die soort kos wat jou terugvat na ’n tafel met mense wat jy liefhet. Na ’n huis waar die potte al van vroeg af prut, waar die reuk van gebraaide vleis en groente deur die gange trek, en waar Sondagmiddag vir ’n paar uur sy eie tyd hou.
Sondagmiddagete is koestertyd.
’n Tyd om langer aan tafel te sit. Om tweede te skep. Om oor niks en alles te praat. Om jou bord vol te skep en vir ’n rukkie te vergeet van Maandag.
Want ’n behoorlike Sondagbord moet nie minimalisties wees nie. 😄
By ons sal daar áltyd twee vleise en twee groentes op daardie bord wees.
Die soort bord wat sê: Kom sit. Jy is welkom. Eet nog ’n bietjie.
Dis die nostalgie van Suid-Afrikaanse Sondae.
En dis presies hoe ons wil hê jy moet voel wanneer jy jou Sondag Special voor jou neersit.
Soos huis.
Woorde: REINT GROBLER



